Tradisionele Afrika-godsdiens

'n Malawiese toordokter, om en by 1910.

Tradisionele Afrika-godsdienste verwys na die geloofsoortuigings van swart kulture in Suid-Afrika. Daar word ook na hierdie tipe gelowe verwys as stamgodsdienste, spiritisme of paganisme. Hierdie tipe godsdienste word meestal as animistiese gelowe beskryf. Die term animisties kom van die Latynse woord anima wat siel of asem beteken.[1]

Dit is egter belangrik om uit te wys dat die tradisionele Afrika-godsdiens en tradisionele Afrika-kultuur, nou verweef met mekaar is.[2]

Die verhouding met die voorvadergeeste en ander geeste (goeie en bose), is baie belangrik. Sulke geeste bring gesondheid, voorspoed, geluk en moet tevrede gehou word deur offerandes en/of rituele. Daar moet veral gewaak word teen dinge wat hulle ongelukkig sal maak (die waak teen die doen van “sonde”). ’n Mens se gees sluit ná die dood by hierdie geeste aan.

Dit is by hierdie gelowe eintlik nie so belangrik wat jy glo of presies hoe jy oor bepaalde idees moet dink nie. Alles is gerig op die welstand en harmonie in die gemeenskap. Die versorging van familie-lede is dus baie belangrik. Daarom is dit die praktiese, alledaagse aangeleenthede wat van pertinente belang is.

Tradisionele geneeskunde is ’n lukratiewe bedryf. Meer as 1020 plante en 150 dierespesies word vir tradisionele medisyne in net KwaZulu-Natal gebruik. Die meeste daarvan word op informele/straatmarkte verkoop. Die waarde van die handel in medisinale plante is aan die einde van 2010 konserwatief op R62 miljoen per jaar geraam. Die bedrag kan vermeerder word tot nagenoeg R500 miljoen wanneer die fooie wat Sangomas hul kliënte vir hul dienste vra bygevoeg word.

  1. http://www.antwoord.org.za/2011/03/hoe-verskil-die-wereld-se-godsdienste/
  2. https://juffrouj.files.wordpress.com/2015/06/godsdienste-in-suid-afrika.pptx

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search